NUUT
Wysigingswet op Belastingwette, Wet 5 van 2026
Die Wysigingswet op Belastingwette, Wet 5 van 2026, is op 2 April 2026 goedgekeur. Die veranderinge is terugwerkend vanaf 1 Maart 2026 (die begin van die 2027 belastingjaar).
Die belastingsyfers in ou nuusbriewe, omsendbriewe en trusteeverslae sal dus nou verouderd wees. Pogings word wel aangewend om huidige vorms en inligtingstukke op datum te bring met die gewysigde belastingwet.
Aktiewe lede – belastingvoordeel op pensioenfondsbydraes
Vanaf 1 Maart 2026 – 27,5% tot ’n maksimum van R430 000.
Bydraes tot die pensioenfonds kan van die lid se belasbare inkomste afgetrek word voordat inkomstebelasting bereken word. Hierdie aftrekking was beperk tot 27,5% van ’n lid se belasbare inkomste tot ’n maksimum van R350 000. Die Wysigingswet het die maksimum koers van 27,5% behou, maar die randlimiet is tot ’n maksimum van R430 000 aangepas.
In praktyk beteken dit dat ’n lid met ’n belasbare inkomste van meer as ongeveer R1,56 miljoen per jaar (R1 563 636,36 om presies te wees) ’n maksimum belastingaftrekking van R430 000 vir pensioenfondsbydraes kan eis – ten spyte daarvan dat dit minder as 27,5% van die lid se totale belasbare inkomste is.
Aktiewe lede – kontant by aftrede
Fondswaarde kan in kontant geneem word as tweederdes van die oupot en die volle aftreepot se waarde saam minder as R240 000 is.
Lede van die pensioenfonds is by aftrede verplig om tweederdes van hulle oupot se fondswaarde plus die volle aftreepot se waarde te annuïtiseer (’n pensioen of annuïteit daarmee te koop). Die de minimis-drempel vir annuïtisering is vanaf 1 Maart 2026 tot R360 000 verhoog. Dit was voorheen R247 500.
In praktyk beteken dit dat as tweederdes van die oupot se fondswaarde plus die volle aftreepot se fondswaarde saam minder as R240 000 is, dit alles as kontant geneem kan word. Let wel: die Wet laat toe dat ’n lid dit as kontant mag neem, maar ’n lid is nie verplig dit te doen nie.
Die spaarpot se fondswaarde kan in elk geval as kontant geneem word. Onthou: ’n lid hoef nie die spaarpot se fondswaarde as kontant te neem nie. ’n Lid mag die spaarpot se fondswaarde oordra of dit gebruik om ’n pensioen of annuïteit mee te koop (te annuïtiseer).
Aktiewe lede – spaarpot by beëindiging van fondslidmaatskap
Die bestaande reël is dat ’n lid slegs een keer per belastingjaar ’n onttrekking uit die spaarpot mag maak. Die minimum onttrekking is R2 000,00. Wanneer ’n lid se fondslidmaatskap egter beëindig word, geld ’n ander reël. Dit geld ongeag of die lid bedank, ontslaan, afgelê word of aftree. Dit geld ook vir ’n opbetaalde lid of ’n uitgestelde afgetredene wat besluit om die fonds te verlaat. In hierdie geval mag die lid in dieselfde belastingjaar die volle balans in die spaarpot onttrek, selfs al het die lid reeds vroeër in dieselfde belastingjaar ’n onttrekking uit die spaarpot gemaak. Die reël geld ook ongeag of die spaarpot se balans meer of minder as R2 000,00 is. Die lid hoef egter nie die volle spaarpotbalans in kontant te neem nie. Die lid kan ook kies om slegs ’n gedeelte van die spaarpotbalans in kontant te neem.
In-fonds lewende annuïteit lede (IFLA lede)
De minimis-reël vir lewende annuïteite – R150 000.
Die Inkomstebelastingwet laat toe dat ’n lewende annuïteit in ’n enkelbedrag (kontantbedrag) uitbetaal mag word indien die waarde van die lewende annuïteit nie die voorgeskrewe de minimis-limiet oorskry nie. Die limiet was voorheen R125 000, maar dit is nou aangepas na R150 000.
Hierdie limiet geld per versekeraar en nie per individuele lewende annuïteit nie.
Vrywaring
Hierdie notas is bloot ’n eenvoudige praktiese verduideliking vir lede van die Predikante Pensioenfonds. In geval van enige teenstrydigheid geld die bepalings van die Pensioenfondswet, die Inkomstebelastingwet, die Fondsreëls en toepaslike SARS-riglyne.
Pensioen verhooog met 3,4% vanaf Januarie 2026
Pensioentrekkers se pensioen is in Januarie 2026 met 3,40% verhoog.
Pensioentrekkers (nie IFLA-lede nie) se pensioen word sedert April 2023 deur ’n inflasie-gekoppelde annuïteitspolis by Sanlam gewaarborg. Hierdie polis bepaal verder dat Sanlam jaarliks die hooflyninflasie (soos gemeet in September van die vorige jaar) gebruik as die persentasie waarmee die pensioen vir die nuwe kalenderjaar verhoog word. Hooflyninflasie, soos op 30 September 2025 gerapporteer, was 3,40%.
Saam met die aankoop van die inflasie-gekoppelde annuïteitspolis in April 2023, het pensioentrekkers ’n vierdubbele bonus ontvang. Weens die oorskot in die pensioentrekkerrekening (na die aankoop van die polis) kon die Beheerliggaam vier bonusse aan pensioentrekkers betaal. Dit het in Desember 2023, April 2024, Augustus 2024 en Augustus 2025 gebeur. Die eerste drie bonusse was gelyk aan ’n volle maand se pensioen. Augustus 2025 se pensioen was tweederdes van ’n maand se pensioen.
Pensioentrekkers is ongelukkig ook ingelig dat dit die laaste van die reeks buitengewone bonusse was. Daar is (soos pensioentrekkers oor die jare gewoond was) nie ’n kersbonus of dertiende tjek vir pensioentrekkers nie.
Pensioenfondskantoor skuif na Brackenfell
Die Pensioenfondskantoor se fisiese adres het op 1 November 2025 geskuif na die NG Kerksentrum, Pastoriestraat, Arauna, Brackenfell.
Gebruik gerus onderstaande skakel om Google Maps se aanwysings na die nuwe kantoor te kry. By Kontak is daar ‘n kaart wat die parkeergebied aandui.
Nuwe Benoemingsvorm van Sanlam vanaf 1 September 2025
Sanlam vereis ’n spesifieke benoemingsvorm ten opsigte van die risikovoordele (lewensversekering). Sanlam het ’n nuwe vorm op 1 September 2025 bekendgestel.
Alle lede moet hierdie nuwe vorm voltooi en aan die pensioenfondskantoor besorg. Klik hier om die nuwe vorm af te laai: Benoemingsvorm
Die Benoemingsvorm gee aan die versekeraar (Sanlam) die opdrag aan wie die lewensversekering betaal moet word. Volgens die versekeringswet moet die versekeraar (Sanlam in die geval van die Predikante Pensioenfonds se lede) streng by die benoemingsvorm bly.
Indien die pensioenfondskantoor nie ‘n getekende nuwe benoemingsvorm (volgens Sanlam se voorskrif) aan Sanlam kan besorg nie, sal Sanlam die betaling (lewensversekering) aan die boedel betaal. Dit kan jare duur voordat die boedel afgehandel is.
Beskermingsdiens
Lede wat aftree en besluit om ’n eksterne annuïteitsproduk aan te koop, is soms onseker of hulle die regte besluit neem. Alexander Forbes bied nou ’n beskermingsdiens aan lede van die Predikante Pensioenfonds om objektief na die spesifieke produk en die koste daarvan te kyk. Die lid kan die voorstel, soos dit aan die lid voorgelê is, aan Alexander Forbes stuur. Teen ’n koste van R1 000 plus BTW (dit wil sê R1 150,00) sal Alexander Forbes die voorstel objektief beoordeel en aan die lid verslag doen. Kontak die hoofbeampte [Kontakbesonderhede] vir besonderhede oor hoe om die diens aan te vra.
ALGEMEEN
Die Predikante Pensioenfonds van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika (PPF) is die pensioenfonds vir predikante van die NG Kerk in Suid-Afrika (Wes-Kaapland), die NG Kerk in Noord-Kaapland, die NG Kerk in Oos-Kaapland, die NG Kerk in KwaZulu-Natal en vanaf 1 September 2021 ook die NG Kerk in die Vrystaat. By implikasie beteken dit dat al die gemeentes in die betrokke sinodes deelhebbers van die PPF is.
Die PPF het op 1 Januarie 2008 vanaf ’n vaste voordeel struktuur na ’n vaste bydrae struktuur omgeskakel.
Die PPF se aktiewe lede het op 31 Oktober 2025 op 554 lede gestaan. Daar was toe ook 201 pensioentrekkers en 123 IFLA-lede (In-fonds Lewende Annuïteit). Die nuutste syfers kan telkens in die jongste Trusteeverslag gelees word.