Tuis

NUUT

Pensioen verhooog met 3,4% vanaf Januarie 2026

Pensioentrekkers se pensioen is in Januarie 2026 met 3,40% verhoog.
Pensioentrekkers (nie IFLA-lede nie) se pensioen word sedert April 2023 deur ’n inflasie-gekoppelde annuïteitspolis by Sanlam gewaarborg. Hierdie polis bepaal verder dat Sanlam jaarliks die hooflyninflasie (soos gemeet in September van die vorige jaar) gebruik as die persentasie waarmee die pensioen vir die nuwe kalenderjaar verhoog word. Hooflyninflasie, soos op 30 September 2025 gerapporteer, was 3,40%.

Saam met die aankoop van die inflasie-gekoppelde annuïteitspolis in April 2023, het pensioentrekkers ’n vierdubbele bonus ontvang. Weens die oorskot in die pensioentrekkerrekening (na die aankoop van die polis) kon die Beheerliggaam vier bonusse aan pensioentrekkers betaal. Dit het in Desember 2023, April 2024, Augustus 2024 en Augustus 2025 gebeur. Die eerste drie bonusse was gelyk aan ’n volle maand se pensioen. Augustus 2025 se pensioen was tweederdes van ’n maand se pensioen.
Pensioentrekkers is ongelukkig ook ingelig dat dit die laaste van die reeks buitengewone bonusse was. Daar is (soos pensioentrekkers oor die jare gewoond was) nie ’n kersbonus of dertiende tjek vir pensioentrekkers nie.

Pensioenfondskantoor skuif na Brackenfell

Die Pensioenfondskantoor se fisiese adres het op 1 November 2025 geskuif na die NG Kerksentrum, Pastoriestraat, Arauna, Brackenfell.
Gebruik gerus onderstaande skakel om Google Maps se aanwysings na die nuwe kantoor te kry. By Kontak is daar ‘n kaart wat die parkeergebied aandui.

Kry aanwysings

Nuwe Benoemingsvorm van Sanlam vanaf 1 September 2025

Sanlam vereis ’n spesifieke benoemingsvorm ten opsigte van die risikovoordele (lewensversekering). Sanlam het ’n nuwe vorm op 1 September 2025 bekendgestel.
Alle lede moet hierdie nuwe vorm voltooi en aan die pensioenfondskantoor besorg. Klik hier om die nuwe vorm af te laai: Benoemingsvorm

Die Benoemingsvorm gee aan die versekeraar (Sanlam) die opdrag aan wie die lewensversekering betaal moet word. Volgens die versekeringswet moet die versekeraar (Sanlam in die geval van die Predikante Pensioenfonds se lede) streng by die benoemingsvorm bly.

Indien die pensioenfondskantoor nie ‘n getekende nuwe benoemingsvorm (volgens Sanlam se voorskrif) aan Sanlam kan besorg nie, sal Sanlam die betaling (lewensversekering) aan die boedel betaal. Dit kan jare duur voordat die boedel afgehandel is.

Beskermingsdiens

Lede wat aftree en besluit om ’n eksterne annuïteitsproduk aan te koop, is soms onseker of hulle die regte besluit neem. Alexander Forbes bied nou ’n beskermingsdiens aan lede van die Predikante Pensioenfonds om objektief na die spesifieke produk en die koste daarvan te kyk. Die lid kan die voorstel, soos dit aan die lid voorgelê is, aan Alexander Forbes stuur. Teen ’n koste van R1 000 plus BTW (dit wil sê R1 150,00) sal Alexander Forbes die voorstel objektief beoordeel en aan die lid verslag doen. Kontak die hoofbeampte [Kontakbesonderhede] vir besonderhede oor hoe om die diens aan te vra.

ALGEMEEN

Die Predikante Pensioenfonds van die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika (PPF) is die pensioenfonds vir predikante van die NG Kerk in Suid-Afrika (Wes-Kaapland), die NG Kerk in Noord-Kaapland, die NG Kerk in Oos-Kaapland, die NG Kerk in KwaZulu-Natal en vanaf 1 September 2021 ook die NG Kerk in die Vrystaat. By implikasie beteken dit dat al die gemeentes in die betrokke sinodes deelhebbers van die PPF is.

Die PPF het op 1 Januarie 2008 vanaf ’n vaste voordeel struktuur na ’n vaste bydrae struktuur omgeskakel.

Die PPF se aktiewe lede het op 31 Oktober 2025 op 554 lede gestaan. Daar was toe ook 201 pensioentrekkers en 123 IFLA-lede (In-fonds Lewende Annuïteit). Die nuutste syfers kan telkens in die jongste Trusteeverslag gelees word.